Fondswerwing en Donasies
Fondswerwing is 'n onontbeerlike bron van inkomste. Die jaarlikse basaar is die hoof fondswerwingsaksie en word goed ondersteun deur die gemeenskap. Die Vonkel Ontbyt is ook onder andere 'n lekker kuiergeleentheid.
Verskeie projekte vir fondswerwing word in die nabye toekoms beplan. Hou asseblief die nuus dop vir fondswerwingsgprojekte.
Verskeie projekte vir fondswerwing word in die nabye toekoms beplan. Hou asseblief die nuus dop vir fondswerwingsgprojekte.
Spesiale Dae
Moedersdag, Vadersdag, Mandeladag, Lentedag, Loslitdag en ander spesiale dae word met spesiale moeite aangebied. Die week vir Ouer Persone word jaarliks deur middel van 'n bekendstellings veldtog en stap deur die inwoners en personeel aangebied. Na afloop van die stap word heerlik saamgekuier en tradisionele speletjies in die tuin gespeel.
Kersete
Baie moeite word gedoen om die Kersete 'n hoogtepunt op die kalender van die inwoners, donateurs en bestuurslede te maak. Inwoners word aangemoedig om aktief deel te neem aan alle bedrywighede. Onder andere word inwoners versoek om as gasheer/gasvrou op te tree tydens die Kersete en word die tafels dien ooreenkomstig keurig versier.
Personeelopleiding
Die bestuurskomitee sien toe dat personeel gereeld opleiding ontvang om hul toe te rus om hoë kwaliteit dienste te lewer. Daar word ook aandag gegee aan persoonlike ontwikkeling deur handvaardigheid en ander lesings wat bydra tot hul individuele welsyn.
Nutsmanne
Die nuts en tuin manne sorg vir die instandhouding van die huis. Die blomtuin asook die groente- en kruietuin is 'n lushof.
Biblioteekdienste
Die mobiele biblioteek besoek Silwerkruin tweeweekliks. Grootdruk leesstof vind veral byval.
Silwerflitse
Uit bydraes van die inwoners word 'n kwartaalblad met die titel Silwerflitse saamgestel. Stories uit vanmelewe se dae wat hierin gepubliseer word, verskaf aan oud en jonk ewe veel plesier.
Ons Troeteldiere
Daar word gepoog om 'n huislike atmosfeer by Silwerkruin te skep. Inwoners is betrokke by die versorging van die honde, budgies en duiwe.
Haarsalon
Die huis spog met hul eie haarsalon waar inwoners hul hare daagliks kan laat versorg.
Biduur en Kerkdienste
Die geestelike versorging van die inwoners is 'n hoë prioriteit. Eredienste, bidure en bybelstudie vind weekliks plaas onder leiding van die NG Kerk Wellington.